15/02/2025
15 Februarie 2025
Saterdag
Dag 122
Goeie more!
*Af met die Maskers – Ontmoet die Ware Jy*
*Psalms 139:14*
Afrikaans 1933/53
_"[14] Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed."_
Het jy al ooit gewonder hoekom ons so maklik maskers opsit?
Ons hoop dat mense van ons sal hou, maar dan raak hulle eintlik verlief op 'n fasade of dekmantel of 'n skyn, nie die werklike ons nie.
Hoe ironies is dit dat hierdie strategie ons eintlik vervreem van die liefde en aanvaarding waarna ons smag?
D**k aan ‘n toneelstuk waarin ‘n akteur ‘n masker moet dra...
Elke dag leef hy so oortuigend ín sy karakter in dat mense begin glo dit is wie hy werklik is. Maar as hy die masker tuis afhaal, voel hy eensaam en leeg – niemand ken die wérklike persoon agter die masker nie.
Net so dra ons maskers voor God en ook voor ander mense, maar dit bring geen ware vervulling nie.
*1 Samuel 16:7*
Afrikaans 1933/53
_"[7] Maar die Here sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan."_
Wanneer ons ons wérklike self probeer wegsteek, wanneer ons voorgee om te wees wie ons nié is nie, verloor ons uit op die seëninge wat God vir ons beplan...
Dis soos _masking tape_ – dit voorkom dat God se "verf" van genade en seën ons hele wese bereik.
Net soos jy nie ‘n muur kan verf as daar _masking tape_ oor is nie, kan God nie werk met die dele van ons wat ons wegsteek nie.
Maar, hoe bevrydend is dit nie om te weet dat ons deur en deur, deur God geken en aanvaar word nie!
*Jeremia 1:5*
Afrikaans 1933/53
_"[5] Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot 'n profeet vir die nasies gemaak."_
Stel jou voor jy kry ‘n werk deur voor te gee jy is iemand anders.
Jy sal gedurig angstig wees om jou ware self te openbaar. Maar God vra jou net om jouself te wees – want Hy het jou spesifieke talente en gawes gegee.
*Kolossense 3:23*
Afrikaans 1933/53
_"[23] En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,..."_
In verhoudings dra ons dikwels maskers om liefde te verdien. Maar die liefde van God is onvoorwaardelik, sonder masker.
*Romeine 8:38-39*
Afrikaans 1933/53
_"[38] Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge [39] of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie."_
Dit begin by eerlikheid met God en jouself. Maak jou hart oop en laat God toe om jou soos jý is te vorm.
Wanneer jy ophou voorgee, maak jy ruimte vir God se volle seën in jou lewe.
*2 Korinthiërs 3:18*
Afrikaans 1933/53
_"[18] En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is."_
Maak tyd om éérlik met God te praat oor jou vrese en onsekerhede.
Leef met integriteit, wetende dat jy uniek geskape is deur God.
Vertrou wat God oor jou sê, nie wat jy d**k ander van jou verwag nie.
*Efésiërs 2:10*
Afrikaans 1933/53
_"[10] Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel."_
Hemelse Vader,
Dankie dat U my geskep het, vreeslik en wonderbaar. Help my om my masker af te haal en my ware self aan U en die wêreld te wys. Here, lei my om U wil te volg en te wandel in die waarheid van wie U my gemaak het om te wees. Dankie dat U my liefhet net soos ek is en dat U my met U seëninge wil oorlaai. Ek vertrou U, Here, en gee elke deel van my hart oor aan U.
In Jesus se Naam bid ek.
Amen.
Laat los die masker – ontvang God se volle seën!
Blessings!🌻