24/05/2026
Genade. Waar om te begin?!
Vir 2 jare lank lewe ons gesin al met hierdie wolk bo-oor ons koppe. Gaan ek die kanker oorwin? Gaan ek doodgaan? Gaan die chemo werk? Gaan die 2de en 3de rondtes chemo werk? Watter CT's en MRI's lê nog voor? Wanneer gaan my voos gedrukte are bietjie ruskans kry en ek nie pal soos ʼn heroïen verslaafde lyk nie? Gaan ons ooit weer nie elke stoelgang vier nie, want dit ís iets om oor fees te vier. Wanneer gaan my kinders ophou paniekerig raak, as hulle die sirenes van ʼn ambulans hoor en d**k, is dit nie dalk Mamma nie. En so kan ons aan en aan en aan gaan.
Ek was 3 weke gelede vir ʼn CT scan om te sien of ek ʼn bloedklont aan die ontwikkel is, en ons het sommer gekyk na my buik om vordering daar dop te hou. Die goeie nuus was dat ek nie ʼn sigbare bloedklont in my bene of pelwis het nie. Die gewasse het egter vinnig en aggressief gegroei en sit nou meeste van my pelwis en buik vol. Ek het nou min of meer ʼn permanente hoogswanger buik, al tap ons elke 4 tot 5 dae 3 liter vloeistof uit. Die limfedema wat die geswelde enkels, bene en knieë veroorsaak is permanent. Ek moet oumens kouse bedags dra en slaap snags in ʼn fort van kussings om my voete hoër as my hart te probeer hou. Ek het my oë uitgehuil. Ek sê vir Vicci dat hierdie kanker als by my steel. Ek moes vrede maak met my lekker lyf wat weg is en nou is my mooi kuite en fyn knieë en enkels ook weg. Vicci sê my gesig is ten minste nog pragtig 😊❤️.
Ek en sus, Annemarie Van Der Merwe is verlede week vir ʼn paar dae alleen weg. Ons huisie voor, heel voor, op Paternoster se hawe, was ons skuiling tydens die groot vloed en storms wat die Weskaap geteister het. Ek het gevoel soos Laurika Rauch se 'Ek het ʼn huisie by die see'. Tussen al die lekker bederf het ek baie op die bank gelê en na die kwaai see gekyk en ged**k. Ek het met albei my Onkoloë gesels sowel as met die Chirurg wat my aanvanklik gediagnoseer het. Ek het lank met Vicci gepraat. Hy het my laat belowe dat ek self ʼn besluit sal neem oor die pad vorentoe, en dan 'back' hy my. Want anders verwyt hy na die tyd homself, watter rigting hy ook sou kies. Want geen van die opsies is werklik lekker of eenvoudig nie. Ook nie reg of verkeerd nie.
Ek het besluit om met alle behandelings te staak. Ons hanteer nou maar die pyn en die newe effekte soos wat hulle opkom. Ek wil regtig, regtig nie weer hospitaal toe gaan nie, indien dit kan verhelp word. Natuurlik sonder om vir Vicus De Jager en die kinders te veel te traumatiseer nie.
My besluit plaas my nou in die 'paar maande oor om te leef' kategorie. Ek kan voel hoe my liggaam in shutdown gaan. Hierdie ou lyf het vrek hard baklei en ek is trots op haar. Al is my sterflikheid ʼn baie bitter pil om te sluk.
Ek weet nie of ek weer hier gaan post nie.
Ek wil graag my dae volprop met memories en dinge wat my geliefdes sal onthou.
Ek is besig om by die werk af te sluit. Ek is so so so dankbaar teenoor my direksie by Namaqua West Coast. Hulle het in hier 2 jaar my net gedra en ondersteun en ek waardeer julle uit my hart uit. Vir hierdie laaste paar maande het dit soms gevoel dat my werk die enigste deel van die ou Monika was, wat nog bestaan het. Dankie dat julle my verdra het. Dankie aan die beste kollegas Megan Gelandt en Eonie van Schalkwyk wat meer gedoen het as wat enigiemand kan verwag nie. Ek is lief vir julle.
Dankie vir al die wonderlike kommentaar en uitreik wat ek hier op my bladjie gekry het. Ek koester dit.
Dankie vir almal wat saam gebid het en saam hoop vir ʼn wonderwerk.
Dankie aan die beste vriende onder die son. Die wat Vredendal vir my lekker maak maar ook die wat van ver af kom en my herinner daaraan dat ek ʼn vol en geseënde lewe het.
Dankie aan Anton Verwey wat nie net my dominee is nie maar ʼn vriend wat saam huil en hoop. Dankie aan liewe Petri Coetzee wat my help vrede maak het met hierdie pad. Dankie is ʼn te klein woord vir hoe baie jy my gehelp het nie. En jy het, indien ek jou geskok het met my emosies en uitlatings, my nooit veroordeel nie.
Pappa en Mama. Ek is so jammer dat julle hierdeur moet gaan. Julle verdien dit nie om ʼn kind te verloor nie. Ek is jammer!! Dankie dat julle die beste ouers vir my is. Ek het geen 'regrets' nie. Net ʼn hart vol liefde, ʼn glo in myself en dryfkrag wat ek van julle af gekry het. Julle is die mooiste voorbeeld van ʼn huwelik. Nooit perfek nie. Altyd eerlik. En julle het ons 5 kinders met als in julle lief. Dankie dat ek julle Oudste mag wees.
My sibbe. Ai. Markus, wat jou lewe lank my beste maatjie was en meer as enigiemand my lewe gedeel het en my backup was met enigiets! Dankie dat jy vir Sim ʼn vaderfiguur was saam met Pappa. Julle het so ʼn groot rol gespeel in die wonderlike jong man wat hy is. Jy is net lief. Liki, jou sagtheid en liefde veral vandat ek siek geraak het raak my oneindig. Dankie dat jy dit kon regkry om my sussie te wees, en ʼn dr wie se opinie my soveel vrede gegee het, selfs al was dit ʼn helse las vir jou. Lels, ek kan nie myself sonder jou hier onder my blad ind**k nie. Ek het jou so lief. My maat en my kids se 2de Ma. Dankie dat jou seuns ook soos my eie kids voel. Veral na die huis dolleeg was met Sim uit die nes uit. Steffa!! Babasussie. Klein en donners vurig. Die spreekwoordelike dinamiet wat in klein pakkies kom. Dankie vir al die quirky en gedeelde belangstellings en passie. Dankie dat jy vir ons familie die beste 2 Albertyntjies kom gee het!
My liefste Vicci. Jy het vir my ʼn lewe kom gee wat ek nie geweet het ek verdien nie. Jy het al die bittere seer van my verlede aanvaar en oor die jare selfs die letsels daarvan laat verdwyn. Jy is die beste Pa in die wêreld en ek het vrede oor julle 4. Ek het jou heeltemal lief. Simeon, Stella en Anika. Julle is die pêrels in my kroon. Julle is die beste deel van my lewe en elke een van julle het my hele hart. My liefde vir julle gaan nie weg nie. Ek sal vir altyd vir julle lief wees. Ek sal altyd julle Mamma wees.