Chemo, chaos en klein oorwinnings.

Chemo, chaos en klein oorwinnings. Ek het Stage 4 kolorektale kanker. Dit het gemetastateer na my lewer en meer onlangs na my peritoneum. Ek is op palliatiewe chemo en ons baklei nou vir meer tyd.

Dis vir ons swaar maar die seëninge is oorvloedig en ons is hoopvol.

25/06/2026
Genade. Waar om te begin?!Vir 2 jare lank lewe ons gesin al met hierdie wolk bo-oor ons koppe. Gaan ek die kanker oorwin...
24/05/2026

Genade. Waar om te begin?!
Vir 2 jare lank lewe ons gesin al met hierdie wolk bo-oor ons koppe. Gaan ek die kanker oorwin? Gaan ek doodgaan? Gaan die chemo werk? Gaan die 2de en 3de rondtes chemo werk? Watter CT's en MRI's lê nog voor? Wanneer gaan my voos gedrukte are bietjie ruskans kry en ek nie pal soos ʼn heroïen verslaafde lyk nie? Gaan ons ooit weer nie elke stoelgang vier nie, want dit ís iets om oor fees te vier. Wanneer gaan my kinders ophou paniekerig raak, as hulle die sirenes van ʼn ambulans hoor en d**k, is dit nie dalk Mamma nie. En so kan ons aan en aan en aan gaan.

Ek was 3 weke gelede vir ʼn CT scan om te sien of ek ʼn bloedklont aan die ontwikkel is, en ons het sommer gekyk na my buik om vordering daar dop te hou. Die goeie nuus was dat ek nie ʼn sigbare bloedklont in my bene of pelwis het nie. Die gewasse het egter vinnig en aggressief gegroei en sit nou meeste van my pelwis en buik vol. Ek het nou min of meer ʼn permanente hoogswanger buik, al tap ons elke 4 tot 5 dae 3 liter vloeistof uit. Die limfedema wat die geswelde enkels, bene en knieë veroorsaak is permanent. Ek moet oumens kouse bedags dra en slaap snags in ʼn fort van kussings om my voete hoër as my hart te probeer hou. Ek het my oë uitgehuil. Ek sê vir Vicci dat hierdie kanker als by my steel. Ek moes vrede maak met my lekker lyf wat weg is en nou is my mooi kuite en fyn knieë en enkels ook weg. Vicci sê my gesig is ten minste nog pragtig 😊❤️.
Ek en sus, Annemarie Van Der Merwe is verlede week vir ʼn paar dae alleen weg. Ons huisie voor, heel voor, op Paternoster se hawe, was ons skuiling tydens die groot vloed en storms wat die Weskaap geteister het. Ek het gevoel soos Laurika Rauch se 'Ek het ʼn huisie by die see'. Tussen al die lekker bederf het ek baie op die bank gelê en na die kwaai see gekyk en ged**k. Ek het met albei my Onkoloë gesels sowel as met die Chirurg wat my aanvanklik gediagnoseer het. Ek het lank met Vicci gepraat. Hy het my laat belowe dat ek self ʼn besluit sal neem oor die pad vorentoe, en dan 'back' hy my. Want anders verwyt hy na die tyd homself, watter rigting hy ook sou kies. Want geen van die opsies is werklik lekker of eenvoudig nie. Ook nie reg of verkeerd nie.

Ek het besluit om met alle behandelings te staak. Ons hanteer nou maar die pyn en die newe effekte soos wat hulle opkom. Ek wil regtig, regtig nie weer hospitaal toe gaan nie, indien dit kan verhelp word. Natuurlik sonder om vir Vicus De Jager en die kinders te veel te traumatiseer nie.

My besluit plaas my nou in die 'paar maande oor om te leef' kategorie. Ek kan voel hoe my liggaam in shutdown gaan. Hierdie ou lyf het vrek hard baklei en ek is trots op haar. Al is my sterflikheid ʼn baie bitter pil om te sluk.

Ek weet nie of ek weer hier gaan post nie.

Ek wil graag my dae volprop met memories en dinge wat my geliefdes sal onthou.
Ek is besig om by die werk af te sluit. Ek is so so so dankbaar teenoor my direksie by Namaqua West Coast. Hulle het in hier 2 jaar my net gedra en ondersteun en ek waardeer julle uit my hart uit. Vir hierdie laaste paar maande het dit soms gevoel dat my werk die enigste deel van die ou Monika was, wat nog bestaan het. Dankie dat julle my verdra het. Dankie aan die beste kollegas Megan Gelandt en Eonie van Schalkwyk wat meer gedoen het as wat enigiemand kan verwag nie. Ek is lief vir julle.
Dankie vir al die wonderlike kommentaar en uitreik wat ek hier op my bladjie gekry het. Ek koester dit.
Dankie vir almal wat saam gebid het en saam hoop vir ʼn wonderwerk.
Dankie aan die beste vriende onder die son. Die wat Vredendal vir my lekker maak maar ook die wat van ver af kom en my herinner daaraan dat ek ʼn vol en geseënde lewe het.
Dankie aan Anton Verwey wat nie net my dominee is nie maar ʼn vriend wat saam huil en hoop. Dankie aan liewe Petri Coetzee wat my help vrede maak het met hierdie pad. Dankie is ʼn te klein woord vir hoe baie jy my gehelp het nie. En jy het, indien ek jou geskok het met my emosies en uitlatings, my nooit veroordeel nie.
Pappa en Mama. Ek is so jammer dat julle hierdeur moet gaan. Julle verdien dit nie om ʼn kind te verloor nie. Ek is jammer!! Dankie dat julle die beste ouers vir my is. Ek het geen 'regrets' nie. Net ʼn hart vol liefde, ʼn glo in myself en dryfkrag wat ek van julle af gekry het. Julle is die mooiste voorbeeld van ʼn huwelik. Nooit perfek nie. Altyd eerlik. En julle het ons 5 kinders met als in julle lief. Dankie dat ek julle Oudste mag wees.
My sibbe. Ai. Markus, wat jou lewe lank my beste maatjie was en meer as enigiemand my lewe gedeel het en my backup was met enigiets! Dankie dat jy vir Sim ʼn vaderfiguur was saam met Pappa. Julle het so ʼn groot rol gespeel in die wonderlike jong man wat hy is. Jy is net lief. Liki, jou sagtheid en liefde veral vandat ek siek geraak het raak my oneindig. Dankie dat jy dit kon regkry om my sussie te wees, en ʼn dr wie se opinie my soveel vrede gegee het, selfs al was dit ʼn helse las vir jou. Lels, ek kan nie myself sonder jou hier onder my blad ind**k nie. Ek het jou so lief. My maat en my kids se 2de Ma. Dankie dat jou seuns ook soos my eie kids voel. Veral na die huis dolleeg was met Sim uit die nes uit. Steffa!! Babasussie. Klein en donners vurig. Die spreekwoordelike dinamiet wat in klein pakkies kom. Dankie vir al die quirky en gedeelde belangstellings en passie. Dankie dat jy vir ons familie die beste 2 Albertyntjies kom gee het!
My liefste Vicci. Jy het vir my ʼn lewe kom gee wat ek nie geweet het ek verdien nie. Jy het al die bittere seer van my verlede aanvaar en oor die jare selfs die letsels daarvan laat verdwyn. Jy is die beste Pa in die wêreld en ek het vrede oor julle 4. Ek het jou heeltemal lief. Simeon, Stella en Anika. Julle is die pêrels in my kroon. Julle is die beste deel van my lewe en elke een van julle het my hele hart. My liefde vir julle gaan nie weg nie. Ek sal vir altyd vir julle lief wees. Ek sal altyd julle Mamma wees.

Die mense wat ek liefhet, weet al dat geen nuus van my af, byna nooit goeie nuus is nie. As ek swaar kry dan rol ek soos...
31/03/2026

Die mense wat ek liefhet, weet al dat geen nuus van my af, byna nooit goeie nuus is nie. As ek swaar kry dan rol ek soos ʼn shongololo op en my woorde droog op.
Die laaste 2 maande was vrek swaar. Kanker 2 Mons 0.
Ek weet nie of my liggaam net sy versadigingspunt bereik het van gif nie, en of die ascites en groeiende massa in my buik bydra nie. Maar my lyf is vuisvoos en ek kry swaar. Daar is ʼn permanente kateter in my buik om die dreinering van vog by die huis moontlik te maak. Die week of wat na die prosedure was 1 groot wasem van pyn gewees. Ek was na ʼn week vasbeslote dat ons hom eerder moet verwyder. Gelukkig het ek ʼn sagte en geduldige swaer en hy het ʼn klomp wonderlike kollegas, en tussen Wim en sy vriende Charlie en Piet, saam met raad van ons liewe Johan hier op Vredendal het ek besluit om maar vir die drs te luister en nog so ʼn ruk vas te byt. En ek is dankbaar dat ek het. Met dieselfde passie en presisie waarmee Vicci sy vishoeke en stroppe en leaders knoop het ons nou ʼn seepgladde stelsel om my buik te dreineer en dit gee ons ʼn mate van beheer oor ons lewenskwaliteit. Mense het kom kuier. Janneke en Marianne het uit Heidelberg uit gery vir ʼn aand en op die ou end met Vicci en die meisies gekuier terwyl ek in en uit van diep slaap gedwaal het. Tannie Hanje het vir my chemo toe gery en die troos van iemand wat kanker en chemo aan haar lyf ken was kosbaar. Rochellie het vir 2 dae kom huis hou en my in ʼn bad in gesleep en saam met my gehuil oor als wat op sy kop is. Jacques was hier en het saam met sy mooiste foto's vir my laat onthou hoekom sommige mense in en uit ons lewens beweeg en ander vasplak. Ek is bly dat Jacques ʼn vasplak vriend is. Anina het op my bed by my kom lê en vir my laat onthou dat ek ook nie altyd vir almal hoef reg te staan nie. Soms kan ek ook gedra word. My niggie Heidi en haar man het uit Natal uit kom kuier. Haar ma, ons liefste tannie Carmen, is dood aan kanker toe sy so oud soos ek was. Dit was ʼn mooi, kosbare weersiens.
Ek gesels weer met Petri. Soos wat my liggaam swakker word, spook die dood en my kinders en al die groot onbekendes maar weer by my. Ek huil baie. Ek wil nie doodgaan nie. Ek het so ʼn wonderlike lewe. Ek het ʼn man wat mal is oor my en saam met wie ek wil oud raak. Ek wil kan bywees as hy die wêreld se beste oupa word. Ek en hy het nog so baie planne. Ek wil nie hoor dat hy en ons kinders OK gaan wees nie. Ek wil by hulle wees!! Ek is dankbaar dat Petri my help om te sit in al hierdie swaar emosies. Ook dat ek mag kwaad wees en seer voel oor dinge in my lewe waar ek heeltemal te na gekom is. Om te verstaan dat ek nie skielik die engel Gabriel is nie en dat dit OK is om soms woedend te voel.
My lyf verloën my. Ek het my uitbundigheid en drif verloor. Nie omdat ek moedeloos is nie, maar sommer omdat my liggaam te swak is daarvoor. Dis als goed wat tyd vat om deur te werk en ek probeer myself die tyd gun om dit te doen.
So as ek nie dadelik op boodskappe reageer nie. Of soms glad nie. Asb moenie ophou nie. Ek lees alles en koester dit. En deur als bly ons hoop vir ʼn wonderwerk en druk ons elke druppeltjie vreugde uit wat my krag vir my toelaat. ❤️

So is ek vol bravade, met tasse volgepak met Vicci se lures en katrolle en genoeg nuwe outfits vir my, gister af Kaap to...
27/02/2026

So is ek vol bravade, met tasse volgepak met Vicci se lures en katrolle en genoeg nuwe outfits vir my, gister af Kaap toe om ons lang verwagte vakansie aan te pak. Die nuwe chemo en als wat daarmee saamgaan het egter ʼn ander plan vir ons gehad. Vicci het vanoggend op sy eie gevlieg Johannesburg toe. Ons vriend Harold Truter vlieg moreoggend saam met Vic Mosambiek toe, en Simeon het my weer huis toe gebring. Ons is teleurgesteld maar ek is dankbaar dat ons eerder die verstandige besluit gemaak het. Ek lê lekker op my bank met ons hondekinders. Mama Estelle, Pappa Koos en Oma Rita bederf ons, en Vicci en ek sal wel êrens ons trippie inwerk. Skoonsus Kobie De Jager het seker gemaak dat ek vol goeie vloeistowwe en gesonde snacks is, en nou is dit eers plat lê totdat my lyf sterker is. ❤️

Om kanker te hê, is om aanhoudend vrede te maak. Vrede maak met lewensplanne wat onherroeplik verander. Vrede maak met a...
17/02/2026

Om kanker te hê, is om aanhoudend vrede te maak. Vrede maak met lewensplanne wat onherroeplik verander. Vrede maak met alles stadiger doen omdat jou lyf nie meer saamwerk nie. Vrede maak met die dood wat skielik ʼn realiteit word. Vrede maak met die hartseer rippel effek wat dit op jou gesin en geliefdes het, waaraan jy niks kan doen nie.
Sondagaand het ek vreeslik gestaan en huil in die stort. Terwyl Vicus my probeer troos, sê ek vir hom dat kanker alles vat. Dit kom vat my lewe en nou kom vat dit my lyf.
Ek het, saam met al die ander vreemde kwaalkies, nou ook Ascites. Die kanker veroorsaak dat my buik vol vloeistof raak. Dit kan afgetap word maar ʼn paar dae later sit dit weer. So ek lyk meeste van die tyd so 8 maande swanger. Ek is op medikasie, wat ons hoop dit sal help. Maar vir nou blyk dit te wees waar my lyf is. Dis vir my vrek swaar. Ek het tot Sondag nie besef watter groot rol my lyf in my selfbeeld gespeel het nie. Ek hou van my lyf, ek hou van wat my lyf kan doen. En nou moet ek ʼn hele klerekas vol mooi klere wegpak saam met die idee van hoe ek lyk. Ek moet ook dit wat my lyf fisies kan doen erken. En vrede maak.
Ek het 2 weke gelede saam met my sus Steffi Albertyn ʼn stap bespreek met Anette Grobler van Silent Steps. Sus Ronelle Nel en ek het laasjaar ʼn stap gedoen en dit was so spesiaal om alleen saam met haar iets te doen wat my soveel vreugde gee. Ek wou met al my sibbe dit deel. Ons is baie opgewonde Wildernis toe en het sommer oppad lekker by vriende en familie gekuier. Dag 1 moes ons so 16km stap van Buffelsbaai af, Sedgefield se kant toe. Ek het ʼn onbekende pyn in my sy gehad met die wegtrek, maar vir Stef gesê ek gaan deur dit loop. Teen 10km het ek bietjie onvas op my voete begin voel en was effe gedisorienteerd. Blykbaar het ek so op ʼn manier die laaste 2 km uitgeloop met Stef, toergids Marika wat my stut/sleep en Anette wat die NSRI gekontak het. Ek het blykbaar vir ʼn ruk op ʼn drip gelê. Ek weet nie wie almal gehelp het nie maar is so dankbaar. Die vlgde 3 dae het Stef en ek die ongelooflike uitsigte van ons kamer geniet, gesels, gelees en geslaap. Dit was op die ou end perfek vir die 2 van ons. Maar ek moet met baie hartseer eers my stapstokke ophang.
Valentynsdag het gekom en gegaan. Vicci bederf altyd vir my en die girls vreeslik en hierdie jaar was nie anders nie.
Ek het begin met my nuwe chemo. (Uiteindelik Discovery 🫣) Ons hoop en vertrou met als in ons, dat dit werk. Daar is nie meer so baie planne te maak nie. My vriendin Rochell Serdyn het uit Stellenbosch kom kuier en huis gehou en my op die hande gedra, terwyl ek gewoond raak aan die chemo. Ek is lief vir haar.
Verder is dit netbal en koor en toetsreeks wat voorlê. Simeon is besig met sy studies in Stellenbosch en als is op sy plek. Vic en ek gaan volgende week bietjie sonder die kids weg. Ek d**k ons het dit met ons honeymoon laas vir so ʼn lang tyd gedoen. As ons die 8ste Maart terugkom is die eerste kwartaal ook amper verby. Dit gaan met ons goed.
Vreugde en vrede vir julle.

Ek is baie skrikkerig om my geloof t.o.v. my kankerstryd te bespreek. Ek wil nie argumenteer oor iets wat vir my so pers...
13/01/2026

Ek is baie skrikkerig om my geloof t.o.v. my kankerstryd te bespreek. Ek wil nie argumenteer oor iets wat vir my so persoonlik is nie. Ek het vandat ek gediagnoseer is gesê dat my liggaam my faal, en dat die Here my die krag sal gee om hierdie pad te stap. Ek voel na amper 2 jaar nog sterker hieroor. Al die positiewe insette en positiewe Bybelverse wat ek kan verkondig, verander nie vir my die feit dat ek baie siek is nie. En ek kan lewe spreek totdat ek blou in my gesig is. Die realiteit is dat ek stage 4, terminale kanker het. Net ʼn wonderwerk gaan my lewe red. Ek glo in wonderwerke maar voel nie dat ek 'geregtig' is op ene nie. Ek sal baie dankbaar wees as ek ene kan kry 😊. En die Here dra my op so baie wonderlike maniere. Ek vind daarin troos en krag. Êrens en op 'n manier maak ek tog vrede met my pad.

Ons het ʼn wonderlike Desember gehad op ons lieflike Jongensfontein. Ons was vir Kersfees na my ouers toe op Jacobsbaai en dit was ʼn fees. Ons hele straat in die karavaanpark, se mans, het hulle hare afgeskeer vir my kankerstryd. Dit was baie spesiaal. Ek het geswem en geswem en weer geswem. Ons het gaan stap, te lekker geëet en te lekker gekuier.

Omdat ek 3 maande laas chemo gehad het lyk en voel ek gesond.

Maar die waarheid is dat ek op baie sterk pynmedikasie is en dat die dosering gereeld moet verhoog word omdat die pyn erger raak soos wat die gewasse groei. Ek kan vir die eerste keer 'voel' dat ek kanker het. Ek weet ook dat hierdie 3 maande sonder chemo die kanker vrye teëls gee om wild te groei. Ek kan dit voel. Dis nogal ontnugterend.
Ek stoei met die Here vir meer tyd. Ek lê in Vic se arm en huil my oë uit. Ek is nie bang vir die dood nie. Maar ek het die lekkerste lewe en ek wil nie my gesin en familie en lewe agterlos nie.

Ek het gister vir bloedtoetse gegaan. My lewer en niere doen baie goed. Maar my kankertellings in my bloed is baie hoër. Hoër as wat dit nog ooit was. Ek gaan einde van die week weer vir scans en dan vat ons die ou pestilensie weer aan.
Ek is dankbaar vir al die liefde en ondersteuning. Uit my hart uit.

Address

Vredendal

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Chemo, chaos en klein oorwinnings. posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Shortcuts

Share