23/05/2026
𝙂𝙚𝙙𝙧𝙖𝙜 𝙗𝙮 𝙠𝙞𝙣𝙙𝙚𝙧𝙨 𝙬𝙖𝙩 𝙨𝙤𝙤𝙨 𝘼𝘿𝙃𝘿 𝙡𝙮𝙠… 𝙢𝙖𝙖𝙧 𝙣𝙞𝙚 𝙖𝙡𝙩𝙮𝙙 𝘼𝘿𝙃𝘿 𝙞𝙨 𝙣𝙞𝙚
Deur Albie Jordaan
Baie ouers voel vandag bekommerd oor hulle kinders se gedrag. Hulle kind sukkel om stil te sit, vergeet goed, luister nie, raak gou afgelei, voltooi nie take nie, of spring van een ding na die volgende. Dit kan baie soos ADHD lyk.
En soms ís dit ADHD.
Maar nie altyd nie.
Daar is ook kinders wat ADHD-agtige gedrag wys, terwyl die werklike probleem iets anders is. Dit beteken nie die kind is stout, lui of ongehoorsaam nie. Dit beteken ook nie ouers het noodwendig verkeerd grootgemaak nie. Dit beteken net ons moet dieper kyk na wat werklik aangaan.
ADHD is ’n regte neuro-ontwikkelings toestand wat aandag, impulsbeheer en uitvoerende funksies beïnvloed. Maar daar is baie dinge wat presies dieselfde simptome kan veroorsaak.
Een van die grootste oorsake vandag is slaaptekort. Kinders wat te min slaap, lyk dikwels hiperaktief, emosioneel, vergeetagtig en ongefokus. Die brein se vermoë om aandag te beheer en emosies te reguleer verswak wanneer ’n kind moeg is. Baie kinders leef vandag in ’n konstante toestand van oorstimulasie en te min rus.
Selfone en skerms speel hier ’n groot rol. Wanneer ’n kind ure lank op ’n foon, tablet of videospeletjie spandeer, word die brein gewoond aan vinnige stimulasie, kits-vermaak en konstante verandering. Dit maak gewone take soos skoolwerk, lees, luister en konsentreer baie moeiliker.
Die probleem is nie net die inhoud op die skerm nie. Dit is ook wat die skerm aan die brein doen.
Skerms beïnvloed dopamienvlakke, slaapkwaliteit, emosionele regulasie en aandag. Baie kinders slaap later as wat hulle behoort, en selfs dan, kry die brein nie altyd die diep rus wat nodig is vir goeie fokus en emosionele beheer nie.
Dan sien ouers gedrag soos:
• swak konsentrasie
• impulsiewe optrede
• emosionele uitbarstings
• rusteloosheid
• swak geheue
• swak selfbeheer
• uitstelgedrag
• moeite om take klaar te maak
En dit lyk baie soos ADHD.
Angs kan ook soos ADHD lyk. ’n Kind wat bekommerd, gespanne of onseker voel, sukkel dikwels om aandag te gee. Hulle gedagtes hardloop heeltyd. Hulle raak maklik afgelei omdat die brein besig is om gevaar, spanning of verwerping te probeer hanteer.
Trauma en emosionele spanning kan dieselfde doen. Kinders wat deur konflik, harde kritiek, verwerping, chaos of emosionele onsekerheid gaan, leef dikwels in ’n toestand van innerlike alarm. Hulle senuweestelsel bly “aan”. Dit beïnvloed fokus, geheue, emosies en gedrag.
Selfs chroniese stres kan uitvoerende funksies verswak.
Uitvoerende funksies is die brein se “bestuurstelsel”. Dit help ’n kind om:
• vooruit te d**k
• take te beplan
• emosies te beheer
• aandag te rig
• tyd te bestuur
• impulsbeheer toe te pas
• take te voltooi
• georganiseerd te bly
Baie kinders het hulp nodig om hierdie vaardighede te ontwikkel en te oefen. Dit is hoekom lewensafrigting kinders dikwels baie help.
Goeie lewensafrigting fokus nie net op gedrag nie. Dit help kinders om praktiese uitvoerende funksies te fokus, te oefen en te ontwikkel. Kinders leer hoe om hulle emosies te verstaan, hoe om take op te breek, hoe om roetines te bou, hoe om fokus te verbeter en hoe om beter keuses te maak.
Baie kinders het nooit regtig hierdie vaardighede geleer nie.
Hulle het nie noodwendig nóg straf nodig nie. Hulle het begeleiding, oefening, struktuur en ondersteuning nodig.
Wanneer ’n kind leer hoe om sy aandag te bestuur, emosies te herken, doelwitte op te breek en praktiese gewoontes te bou, verander gedrag dikwels dramaties.
Dit beteken nie ADHD bestaan nie. ADHD is werklik en moet ernstig opgeneem word. Maar dit beteken ons moet versigtig wees om nie elke kind wat sukkel met fokus of gedrag onmiddellik in een boksie te plaas nie.
Soms is die probleem nie dat die kind ADHD het nie. Soms is die kind oorlaai, oorstimuleer, moeg, angstig, emosioneel seer of sonder die nodige vaardighede om die moderne wêreld te hanteer.
En dit is hoekom ouers nie net moet vra:
“Wat is fout met my kind?” nie.
Maar eerder:
“Wat probeer my kind se gedrag vir my wys?”
*Albie Jordaan (B. Diac.) is a Christian life and parenting coach who helps parents break unhealthy patterns and discipline their children in a biblical, loving, and effective way.
👉🏻To book personal online sessions go to:
https://www.elcty.co.za/book-sessions/
👉🏻Vir praatjies/werkswinkels en groepsessies:
https://www.facebook.com/share/p/188nEDNkf1/
👉🏻For more info or questions:
Whatsapp 067 896 0189