18/08/2026
Die vreugde van ons werk lê soms in kinders se onopgesmikte nuuskierigheid rondom die dood.
Gister, terwyl ons aan kleinkinders hulle oupa se as terugbesorg het, het ons probeer om op die eenvoudigste manier te verduidelik waarom ons hulle oupa se as in ’n klein, herwinbare houertjie, met ’n staalnommerplaatjie, aan hulle teruggee.
Hulle mammie se versoek was dat ons Oupa se as aan hulle terugbesorg sodra hulle almal uit die skool kom.
Ons het lank gewonder hoe ons hierdie groot konsep vir hierdie kleinspan sou verduidelik. Ons het doelbewus besluit om nie Oupa se as in ’n miniatuurkissie te plaas nie, maar eerder in 'n herwinbare houer.
Wat my bybly van gister, is die blink, nuuskierige ogies — ogies wat probeer verstaan, maar tog besef dat daar dinge is wat hulle nog nie heeltemal verstaan of selfs hoef te verstaan nie.
Toe ons uitstap, nooi ons hulle om vrae te vra oor verassing. Nerens het ek geweet dat my foon teen slaaptyd begroet sou word deur fyn stemmetjies in stemboodskappies, vol vrae en ’n huilende peuter, terwyl die atmosfeer in die huis weer deur hartseer en vermisting gevul was..
Later kry ek ’n foto.
Kleintjie het sy troos gevind terwyl hy sy handjies om die houer gevou het — by die spesiale hoekie wat hulle ingerig het met foto’s en kerse van Oupa. ❣️
Kinders is ONGELOOFLIK! ❣️
Hulle vra wat hulle wil weet — presies soos hulle dit verstaan. Soms is die vrae eenvoudig. soms verrassend soos die stem boodskappie op my foon.
En soms laat hulle vrae jou in stilte en antwoord jy op hul vrae: "ek antwoord môre jou vraag" want jy is opgevang in hul gedagtegang en wil hul na veilige en aanvaarbare plek lei🙏
Kinders probeer nie die dood mooi maak nie — hulle probeer dit net verstaan.
En ons hoef nie altyd die perfekte antwoord vir hulle te hê nie. 🌻
Soms is dit genoeg om saam met hulle te sit, eerlik te antwoord in ’n taal wat hulle verstaan, en vir hulle die ruimte te gee om vrae te vra.
Want wanneer ons kinders toelaat om oor die dood te praat, leer ons hulle dat selfs die moeilikste dinge bespreek kan word.
En tussen al die vrae, die nuuskierige ogies en die fyn kinderlike stemmetjies, besef ek dat dit ’n ongelooflike voorreg is om kinders te help om sin te maak van die dood. 🙏
Liefde en Lig❣️