Adult Survivors and Betrayal Trauma Healing

Adult Survivors and Betrayal Trauma Healing Counselling services available for Adult Survivors of Abuse and Betrayal Trauma

28/01/2026

Vir etlike maande hou ek die groeiende ‘stille pandemie’ dop, wat algemeen bekendstaan as “Parental Estrangement”. Dit is ‘n tendens waarvan mens skaars 30-40 jaar gelede gehoor het.

In uiterste gevalle wat dikwels molestering, erge aanranding of bloedskande binne ‘n gesinsstruktuur verteenwoordig het, sou mens hoor van kinders wat weggeloop het, of die oortreder afgesny het. Natuurlik was dit geregverdig.

Vandag lyk daardie landskap van vervreemding egter totaal anders. Wanneer mens die data hieroor dophou en dieper begin delf, is die getalle verbysterend. Veral in Westerse gemeenskappe.

Ek gaan poog om effens meer duidelikheid hieroor te gee, aangesien hierdie tendens week na week meer en meer in my behandeling van kliënte opduik.

Ek praat hier spesifiek nié van werklik uiters gevaarlike ouers, soos in die geval van seksuele oortreders, erge misbruik of werklik narsistiese ouer/s nie. Hierdie fokus is meer gerig op die ‘Stille Pandemie’ wat wêreldwyd ongeveer 26% ouers van jong volwassenes skielik noop om verstaan hiervan te probeer kry. Ouers wat ‘veilig’ was, en geen intensionele trauma aan hulle kinders besorg het nie.

Ek is van mening dat álle generasies deur een of ander vorm van “ONS is anders. ONS is die nuwe geslag denkers” ensomeer gaan.

Ouers sit al vir eeue met hul hande in hul hare wanneer hul eens pligsgetroue, liewe kind skielik tussen die ouderdomme van gewoonlik 18-25 jaar, ‘n tyd binnegaan wat vir ouers lyk na rebellie, opstand of ‘dwarstrekkery’. Is dit egter die waarheid? Dat die kind bloot rebelleer of is hier meer agter die enorme toename aan hierdie tendens?

Ek is voorts van mening dat jongmense tussen genoemde ouderdomme die sg. ‘nes’ moét verlaat om selfstandigheid en volwassenheid te leer. Ons is psigologies aanmekaar gesit om ons vlerke te wil sprei en ons identiteit te ontdek.

Indien dit finansiëel moontlik is vir ouers, moet kinders daardie voorreg gegun word om hulself te gaan ontdek; anders sit mens weer met ‘n moontlike ander ongesonde dinamika as ouers nie hulle kinders ‘laat gaan’ nie.

Myns insiens speel sosiale media, die toename in egskeidings, die groter soeke na ‘my plekkie om te behoort’ ‘n reusagtige rol. En dikwels is die spieël wat opgehou word, te vinde in veral sosiale media.

Verskeie gesinne waarmee ek in die laaste tyd gesels se jong volwasse kinders kom uit die ‘Covid-tyd’. Met ander woorde, hulle was in Matriek, in hulle eerstejaar op Universiteit of Kollege en het basies uitgemis op die ‘normale’ proses van vriende maak, deelname aan aktiwiteite en op so brose ouderdom, aftakelende isolasie beleef.

Die menslike psige is in my opinie, so gevorm dat ons vanaf die ouderdom van 18 tot ongeveer 25 of 26 ‘tropdiere’ is. Dis een van die fases in ons lewens waar ons die meeste identifiseer met ander, waar ons onsself vind, self besluit waarby vind ek aanklank- of nie, waar pas ek in, en wie is die groep mense waarmee ek as individu identifiseer? Weg van ‘n skool, maats saam met wie ek noodgedwonge al vir 12 jaar is, vriende was met kinders omdat my ouers huisvriende met húl ouers was ensovoorts.

Dis geen geheim dat die wêreld, veral vrye toegang tot tegnologie, drasties verander het in die laaste paar jaar nie. Kinders so jonk soos 9 het slimfone, tablette en rekenaars. Gevolglik het die toename in verbruikers van pornografie se ouderdomme al hoe jonger geword.

Kinders speel nie meer buite, neem deel aan die groter gemeenskap en voel hulself deel van ‘n groter aktiewe groep nie. Hul isoleer, behoort aan aanlyn forums en groepe en sit dikwels ure alleen met ‘n foon of rekenaar in hul kamers, in ‘gaming rooms’.

Diepte gesprekke is selde nog voldag kuiers, of laataand braai by mekaar. Hul vereensaam, isoleer en spandeer gemiddeld 11 ure daagliks aanlyn. Almal ken algoritmes wat binne etlike dae vir jou voorskryf ‘waarvan jy hou’. So kan jou ‘feeds’ dus baie vinnig verander in bv “do you have toxic parents? Cut them off”.

Fondasies wat tradisioneel vir eeue die dinamika van gesinne bepaal het, het dramaties verander, onder die vaandel van ‘verbreek die patriargale beheer, genderdisforie en die meningsverskille daaroor, kom ons wees meer ‘accepting’ en liberaal as ons ouers’.

Die Britse sosioloog, Anthony Giddens het bevind dat hedendaagse verhoudings dikwels meer geskoei word op die hele idee van “is hierdie verhouding (met my ouers) in lyn met my eie ideale en ideologieë, is die verhouding ter bevordering van my eie individualiteit en wat ek wil en nie wil doen nie?”. Indien die antwoord ‘nee’ is, dan begin ons dikwels sit met die begin van vervreemding.

Ironies genoeg word die ‘groep’ wat individualiteit, eie identiteit en sinne soos ‘ek het die reg om my vrede te beskerm’ uiter, dan inderwaarheid deel van die groep-mentaliteit (trop skape) waar almal alle individualiteit verloor, júis deur die wa van vervreemding te spring, klim en saam te ry.

Elke tweede ouer is deesdae toksies, narsisties of ‘not good for my mental health’. Dis klinies gewoon nie moontlik nie.

My wérk is geestesgesondheid, dus is ek ‘n groot voorstaander van genesing en om jou trauma te verwerk, maar iets lyk skeefgetrek met die prentjie, al dan nie?

Ja, egskeidings het astronomies toegeneem, een ouer gesinne is meer die norm as die uitsondering. Die seksuele uitbuiting van kinders het die tweede - uiters kommerwekkende posisie - wêreldwyd ingeneem, dus is die probleem heelwat groter as wat mens jou kan voorstel. Maar alle ouers wat afgesny of met ‘beperkte toegang’ beheer word is tog nie gevaarlik en ‘n bedreiging vir geestesgesondheid nie?

Die tendens van bv een ouer wat die geld rondgooi soos lekkers word ‘n groot speelbal om gekoopte lojaliteit van die kinders te verkry. Die ander ouer wat dikwels die hoof versorger is van die kinders, word dikwels bv betrokke in ‘n ewige stryd om onderhoud, en dan word die kinders as’t ware beheer of pionne en gebruik deur die ouer wat die kinders toegooi onder alles wat oop-en toemaak.

Vakansies by die ‘naweek-ouer’ is dikwels oordadig, en die kinders word subtiel beinvloed vir jare dat die primêre versorger (wat spook om kop bo water te hou) ‘sleg/ toksies/ nie betrokke of manipulerend is. Buzz woorde soos ‘parental alienation, toxic behaviour, affecting your mental health’ word soos gebruiksartikels rondgegooi.

Kinders en jongmense begin dikwels hul waarde (danksy sosiale media se invloed) meet aan ‘Lyk ek goed vir my vriende, kan ek die rekening betaal wanneer ons uiteet, lyk ek suksesvol?’ en dan word die ouer wat dit nié kan voorsien skielik ‘toksies’, om te regverdig waarom die ouer wat geld as speelbal en magsmetode gebruik, die ‘veilige hawe’ is.

Die hoofrede, myns insiens, is egter dat jongmense hul ‘storie’ broodnodig het om in te pas. As die ouer smeek, vra, gesels, hulle herinner, word hul beskuldig van “dit was MY persepsie en basta!”. Hulle storie is nodig – hetsy waar of onwaar – om by die distopie (dystopia) van die hedendaagse, wêreldwye narratief van ‘slagoffer vs oortreder’ in te pas.

Anders kan jy nie geestesgesondheid wat ly, toksiese behandeling, ‘my body, my choice’ of sg. individualisme toe-eien nie.

‘n Verdere ironie is dat hierdie ‘krygers tot geregtigheid’ feitlik en dikwels géen genade het vir hul ouers. Dikwels enkelouer gesinne. ‘n Ouer wat ure gewerk het, self gesteier het onder geweldige druk, meermale ouers wat alleen moes werk deur die intense trauma van egskeiding, werkverlies of hul huweliksmaat aan die dood moes afstaan.

Daar is gewoon geen insig of genade vir so ouer nie. Anders moet die jongmens sy narratief van ‘slagofferskap’ prysgee. Verder, is dit amper ‘n verwronge oorlewingstaktiek vir baie jongmense om in die weerkamer (echo chamber: "an environment where a person only encounters information or opinions that reflect and reinforce their own." The term is a metaphor based on an acoustic echo chamber, in which sounds reverberate in a hollow enclosure) verbete vas te klou, om hul sg ‘mental health crisis’ te verdedig. Die ironie is dat indien daar wél wesenlike trauma teenwoordig is, die woede na die ‘veilige’ ouer herlei word.

Hier kan ons afvra is dit doodgewoon omdat ‘n brein wat gedurig trauma beleef het, amper verslaaf is aan kortisol afskeiding – dus ‘verstaan’ die brein die pad van vrees, angs, trauma ens, en inherent weet mens ‘n veilige ouer gaan jou altyd vergewe en liefhê? Maw, in die distopie van ‘n skeefgetrekte realiteit, gaan die brein in sy gewone breinpad af? Met watter verrykende gevolge?

Vanuit my perspektief is dit vir my skokkend om waar te neem hoeveel terapeute moedig ‘parental estrangement’ aan. Waarom? Is genesing en harmonie nie veronderstel om die einddoel te wees nie? Om mense, wie se lewens aan jou toevertrou word vir ‘n oomblik, te lei na gesonde gewoontes, gesonde grense en genesing nie?

Hoe dit ookal sy, die pad van verwoesting wat agter gelos word in hierdie stil pandemie, se omvang is gewoon nog nie bewys nie. Die volle data is nie beskikbaar oor die impak van vervreemde gesinne en gesinsdinamika wat verander.

Die impak op broers en susters se verhouding, die skade van trauma op verwerpte (veilige) ouers se psige en emosionele welstand nie.

In kort: hoe lyk die herstelpad van verlore tyd, en die moontlike vernietigende gevolge van die slaafse navolging van so gevaarlike ‘echo chamber’ nie.

Dis eenvoudig skrikwekkend.

En uiters tragies.

Address

Clubview
Centurion
0014

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Adult Survivors and Betrayal Trauma Healing posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Shortcuts

Share

Category