25/06/2026
Toe ek hierdie blad in April verlede jaar begin het, was ek ongelooflik bang.
Ek het gewonder of mense sou luister, of ek die regte goed sou sê, en of ek enigsins ’n verskil sou maak. As dit nie vir hierdie kosbare vriendin () was wat my moed ingepraat het nie, sou ek waarskynlik nooit die eerste stap geneem het nie.
Vandag, net meer as ’n jaar later, sit ek terug en besef hoe ongelooflik God se hand in alles is.
In Februarie was ek op die “Net vir die Girls Finesse Cruise” en het die voorreg gehad om na Gretha Wiid se praatjie te luister. Ná die tyd het sy “toevallig” langs ons in die eetsaal kom sit. Ek kon haar toe sê dat haar praatjie my baie diep geraak het.
Daar begin ons gesels, en sy nooi my uit om saam met haar ’n “live” oor outisme te doen. Net daar, uit ’n eenvoudige gesprek, het God ’n deur oopgemaak wat ek nooit self sou kon oopmaak nie. Ek was so benoud ná daardie gesprek, want ek het nie eers geweet hoe ’n “live” werk nie.
Dit herinner my daaraan hoe maklik dit is om uit vrees terug te hou. Ons wag dikwels totdat ons gereed voel, totdat ons seker is van onsself. Maar soms vra God net dat ons die eerste stap neem.
Wanneer ons in geloof beweeg en in Sy wil stap, maak Hy deure oop wat ons nooit self sou kon oopmaak nie. Hy laat dinge groei op maniere wat ons nie eens kon droom nie.
As daar iets is wat jy al lank wil doen, maar vrees hou jou terug, laat hierdie jou teken wees: Jy hoef nie alles uit te werk voordat jy begin nie. Neem net die eerste stap. God sal die res laat gebeur in Sy tyd en in Sy wil.
Dankie aan elke persoon wat saam met ons op hierdie reis is. Julle ondersteuning, aanmoediging en liefde beteken meer vir ons as wat julle ooit sal besef.
Dankie liefste Ancke - sonder jou sou hierdie blad nie eers bestaan het nie.