13/10/2017
MY BRIEF AAN ELKE MENS AAN WIE EK AL SLEGTE NUUS MOES OORDRA
Op universiteit word ons opgelei dat daar 'n koud en kliniese manier is om slegte nuus aan 'n pasiënt oor te dra. Begin by die begin, berei die pasiënt voor, dra die nuus oor en gee die pasiënt kans om die nuus te verwerk. Soos bykans alles in medisyne werk dit perfek op papier, maar in praktyk is dit ‘n ander storie. Hierdie is my ope brief aan elke pasiënt wat al ooit slegte nuus moes kry:
Liewe Pasient,
Die ander dag moes ek slegte nuus aan jou oordra. Wat dit was maak seker nie nou meer saak nie. Die feit bly staan, dit was in my hande om jou lewe op daardie oomblik vir altyd te verander. Dit is een ding om te hoor jy skuld die ontvanger honderde duisende rande, maar dit is 'n heel ander storie as jy hoor jy lei aan 'n ongeneesbare siekte. En ek is die persoon wat die nuus moes breek. Die persoon wie se gesig jy altyd sal onthou as jy aan dáárdie dag d**k, die persoon wat die fondasie waarop jou menswees gebou is verkrummel het. Al wou ek nie.
Mense reageer verskillend op skokkende nuus. Sommige begin huil, ander raak kwaad, maar die meeste mense, soos jy, staar sonder uitdrukking na my in ongeloof. Op daardie oomblik wens ek ek kon jou gedagtes lees en net bietjie verstaan wat jy d**k en voel. Miskien was ek te koud, dalk te kras. Of miskien moes ek meer verduidelik. Of minder.
Die ergste is dat ek nie graag die slegte nuus wou deel nie. Maar ek moet. Dit is my werk. Ek sal baie graag eerder wou sê dat jy die gelukkige wenner van 'n vakansie was, of dat jou lewe op daardie oomblik skouspelagtig sou verander ten goede.
Wat my seker die meeste ontstel (en ek mag dit nie wys nie) is dat nadat jy uit my spreekkamer gestap het, ek vir 'n volgende pasiënt goeie nuus moet gee. Ek moet bly wees saam met iemand (en ek wil!), terwyl ek vyftien minute terug saam met jou wou huil. Agter 'n masker van blydskap, is dit 'n gesig wat sukkel om lag. Ek d**k aan hoe jy moet voel. Dit is seker een van die moeilikste dinge in die lewe: om een oomblik te wil uitbars in trane om net ‘n paar minute later te moet skater van blydskap.
Elke aand voor ek gaan slaap d**k ek aan jou en of jy okay is. Of jy pyn het, hartseer is, of jy al berusting gevind het. Ek wonder of daar iemand is wat daar is vir jou. En selfs, of jy nog lewe.
Wanneer die volgende pasiënt instap aan wie ek slegte nuus moet oordra, slinger my gedagtes my rond en daardie oomblik wat ek jou lewe verander het, is weer voor my oë. Dit raak makliker om slegte nuus oor te dra, maar dit sal nooit tweede natuur word nie.
Selfs die “hardste” dokter met geen takt sal nooit daaraan gewoond raak om slegte nuus oor te dra nie. Dit gaan oor menswees. Dit gaan oor menslikheid. Dit gaan oor meer as net nog 'n mens. Of nog 'n sieke. Of wetenskap.
Ek wil hê jy moet weet: as dit ooit gelyk het of ek net die koue, harde feite uitblaker en emosieloos na jou kyk asof jy net nóg ‘n wetenskaplike resultaat is, weet dat ek op daardie oomblik alles wat ek is bymekaar moet hou om my beste te gee sodat jy op geen oomblik voel jy is alleen in jou situasie nie. Dit is nie moontlik om woorde soos kanker, vigs, dood of terminaal “mooi” te laat klink nie, maar ek probeer my bes om dit so “sag” as moontlik te maak. Jou realiteit is my realiteit. Ek weet miskien nie hoe dit voel om sulke nuus te kry nie, maar ek weet wat dit doen aan mense, soos jy, wat aan die ontvang kant van my woorde is.
Miskien is ek die gesig of stem wat jy vir altyd wil vergeet. Ek moedig jou aan om dit ook te probeer doen! Jy gaan elke deeltjie van jou gedagtes nodig he om dit met mooi herinneringe te vervang wat jou deur jou donkerste dae gaan dra. Leef jou lewe voluit. D**k aan alles wat mooi is, aan hulle wat vir jou spesiaal is, en dit wat jou lewe sin gee. Want, op die einde van die dag, is die nuus wat ek moes oordra nie die definisie van jou lewe nie. Dit is net nog ‘n hoofstuk van jou menswees. Jy het ‘n storie om te vertel. En weet, daar is iemand wat wel aan jou d**k al kan ek na ‘n rukkie nie meer jou gesig onthou nie.
Laat dit met jou goedgaan.
Jou Dokter.
Foto: Pexels (Stock Photography)